| home
Aan die bors van lilil | All through the valley | A million years and more | Behold the storm | Bound in the eyes of her Father | Burst open your seeds my love | Do you know her...? | Fire upon a tree | Hy is tuis | I am fine | I feel like a deer | Klein skêrtjie in die hand | lilli and the twelve baskets | lilli en die geknoopte tonge | lilli stap die NG-Kerke binne | Mmmmm... lilli | NO time to play | Out of a tiny seed. | The day when God cried | The last mile | The sum
Hy is tuis
Lank, lank gelede was daar 'n dorpie met die naam Dondeka. Daar het 'n pragtige meisie in gewoon. Sy was gewild by die mense van die dorpie en geseënd by God.
Eendag.. dit was 'n koue winters-nag... die nag het gevolg op 'n baie helder, baie koue winters dag... was daar 'n klop aan haar deur. Sy het alleen gewoon alhoewel sy nog baie jonk was. Haar ouers het haar van die Here ontvang toe hulle al op hoë gevorderde leeftyd was en hulle het 'n moeilike lewe gehad. Hulle het haar goed opgevoed en toe hulle tyd aangebreek het om na hul Skepper te gaan.. was sy voorbereid. Alhoewel sy hulle ontsaglik baie gemis het, het sy geweet hulle is by God. Sy was in vrede.
Anteko het opgestaan waar sy in haar sitkamertjie gesit het... dit was al donker.. goed donker en laat in die nag. Sy was besig om vir haar 'n rokkie te maak uit 'n stukkie lap wat een van die mense in die dorpie aan haar gegee het. Die lap was 'n baie dowwe sagte ligte blou. "Dit gaan tog so mooi by jou oë" het die vrou gesê toe sy dit so teen Anteko se wang gehou het... ".. vat dit tog maar vir jou en dan weet ons dat God in vreugde sal jubel as Hy jou in hierdie aanskou."
Anteko het geglimlag.. sy is 'n baie kalm, nederige meisie met die sagste gees. Haar wese is van liefde aanmekaar geweef. Haar Meester het haar baie lief.
Dit is nou al twee en 'n halwe jaar dat sy alleen woon. Baie van die jong mans op die dorpie... wel... amper almal het haar in die oog, maar Anteko is in vrede. Sy het vrede in God. Sy ken Sy ontverming en sy ken Sy liefde. Sy ken Sy hart en sy het gesien hoe Hy haar grootgemaak het en hoe hy haar beskerm en bewaar het sedert haar ouers oorlede is. Sy vertrou Hom.
Daar is 'n effense rowwe ou hout knip waarmee die deur toegehou word en sy skuif dit weg... soms wonder sy waarom dit daar is want sy kan sommer sien dat daardie ou knip nie eens 'n kind van sewe sal kan buite-hou nie. Rustig maak sy die deur oop... daar is maanskyn buite... dis helder en die maan is ampers vol. Sagte strale skyn oor haar en sy voel haar Meeser in die aanraking van die verligte aandlug. Alhoewel dit koud is ervaar sy die heerlikheid in haar invloei... die aand met haar een word.
Voor haar staan 'n man. Hy is geklee in donker bruin klere en het selfs 'n bruin hoed in die hand. Sy hare is donker... moontlik selfs swart. Sy kan nie sy gelaat so goed sien nie omrede hy met sy rug na die verligte nag gekeer is en die kers wat in haar huisie brand is te flou. Alhoewel sy hom nie herken nie, maak sy die deur effe verder oop. Vrede omhul haar.
Bendoka stap in. Nie een van hulle sê 'n woord nie. Anteko se huisie is klein en haar kombuisie is maar 'n hoekie in haar sitkamer. Sy neem sy hoed uit sy hande uit. Hulle bewe van die koue... haar hart vloei uit na hom. Sy kyk op in sy oë... dit is nie lig genoeg dat sy die kleur van sy oë kan sien nie, maar sy sien sy hart. Vir 'n oomblik.. net 'n oomblik staan hulle so. Dan draai sy om sodat sy die hoed op die tafeltjie kan neersit. Sy neem sy hand en lei hom na die enigste stoeltjie in haar huis. Daar waar sy nou-nou nog gesit het met haar naaldwerk. Bendoka gaan sit en sy oë draai af na die grond toe. Trane vul sy wese.
Anteko gaan vinnig in haar klein slaapkamertjie in en gaan haal haar dons-kombers. Sy vou dit om die verkluimde man waar hy nou sit en ruk. Voor hom gaan sy op haar knieë neer. Sy ken hom nie. Sy ken nie waar hy vandaan kom of waarheen hy gaan nie. Sy weet nie wie hy is nie. Sy buig laag op die grond voor haar God en haar meester en neem hierdie man se voete in haar hande. Hy het nie skoene aan nie en dit voel vir haar asof sy yster in haar hande neem. Trane vloei uit haar oë. Warm trane val op sy voete. Sy druk haar gesig plat op sy voete neer.. haar gees maak sy oop tot haar God. Dan begin sy ook ruk... diepe trane ruk deur haar wese. Sy stort alles op haar Here uit.
Steeds het nie een 'n woord gepraat nie... steeds word daar niks gesê nie. Dit is 'n hele tydjie wat die twee se gestalte teen die muurtjie van die kamer ge-ets word. Anteko voel Bendoka rustig raak... in haarself voel sy ook die vrede van God en Sy geneesing inspoel. Sy voel die heerlikheid van die genesing van God. Sy voel Sy teenwoordigheid en die Gees van God in troos en ontverming op hulle deerdaal.
Haar hande is nou om sy enkels en hou sy hakskene styf vas. Sy kom agter dat sy voete nie meer so koud is nie, maar sop-nat. Sy vryf haar wang oor die brug van sy een voet en draai om ook haar ander wang oor die brug van sy ander voet te vryf. Dan begin sy om sy voete te soen. Liefde borrel by haar uit en vul sy ganse wese. Sy soen sy voete baie sag en vryf hulle liggies tot hulle droog is.
Nog nooit voorheen het sy hierdie teerheid in haar beleef nie.... nog nooit hierdie liefde voel borrel nie. Soos 'n groot stroom bruisende water vloei sy uit en dit is asof sy die ganse vertrek of miskien selfs die ganse huisie vul met dit wat God in haar wek. Sy lig haar bolyf en kom om op haar voete te sit. Sy is nog steeds op haar knieë. Albei neem gelyktydig 'n diep teug asem in sonder dat hulle daarvan bewus is. Dan staan Anteko op en stap na die hoekie toe wat haar kombuisie is.
Nadat sy die stuk lap by daardie vrou gekry het en op pad was huis toe.. het die vrou drie huise van haar af haar ingeroep.
"Kom..." het sy gesê.. "... kom.. ek het ietsie vir jou." Die mense van die dorpie bederf haar werklik en soveel liefde ontvang sy van hulle. Soveel liefde het sy ook vir hulle. Dit was twee bakke wat in haar hande geplaas was. Die een het 'n bredie in gehad en die ander was 'n soetigheid met vrugte in. 'n Gebak. Die bredie was geurig en het sagte vleis en vars ge-oeste groente in gehad. Dit was twee redelike bakke en Anteko het gelag...
"Wat moet ek met al die maak...?"
Nou weet sy. Sy kon nie verstaan waarom sy die bredie op die kool stofie gelos het nie.. en sy het ook nie verstaan waarom sy vroeër weer hout opgesit het nie. Gewoonlik kom sy deur met net een keer se vuur-maak.
Nou weet sy. Ja.. sy weet... sy ken haar God se leiding... sy ken hoe Hy haar lewe in die fynste bestuur. Alhoewel sy nie bewustelik geweet of daaraan gedink het nie, het sy tog maar geweet. Sy was voorberei op hierdie man wat vannag hier aan haar deur kom klop het.
Sy neem die bord waaruit sy vroëer geëet het van die rakkie af waar sy hom gebêre het nadat sy dit gewas het. Sy skep dit vol. Sy sien in die pot die stukkie vleis wat vir haar so baie lekker gelyk het, maar sy kon dit nie inskep nie. Sy weet nou waarom. Sy skep daardie heerlike stukkie vleis in en sy weet dat hierdie bord kos deur God voorsien word. Sy weet hierdie is 'n feesmaal.
In haar hart is soveel dinge aan die gang sonder dat sy daarvan bewus is. Ag, sy weet haar Meester is altyd met haar en sy ken Sy intense teenwoordigheid en weet Hy woon binne-in haar... maar hierdie aand is sy salig onbewus van Sy intense vreugde. Hy kan haar voel en Hy deurgrond haar alles. Hy word verheerlik deur haar hart op meer maniere as wat ons mense tot vandag nog van bewus is. Hy ontvang die lof direk uit haar hart uit terwyl drie-duisend engele tot Hom 'n loflied sing.
Soveel maal was sy alleen en altyd was God met haar.. altyd so saggies binne-in haar en nooit was sy ontevrede nie. Altyd was Sy teenwoordigheid vir haar genoeg.
Anteko het die bord in albei haar hande wanneer sy omdraai. Haar hande is oop en so half onder die bord in.. haar duime raak die bo-rand.
Nie een van hulle glimlag nie en steeds was daar nog geen woord gepraat nie. Bendoka wil opstaan as Anteko nader kom met die bord, maar sy skud haar kop en hy sit weer terug. Hulle oë is in mekaar wanneer hulle hande raak as sy die bord oorgee.
Bendoka is vreeslik honger want sy reis was lank. Drie dae het hy geen kos gesien nie. Hy begin eet sonder om sy oë uit hare te neem. Sy gaan skuins voor hom aan sy voete sit. Haar bene skuins onder haar ingetrek. Sy hou hom dop. Soos hy sit kan sy hom duideliker sien as vroër buite die deur.
Hy is 'n aantreklike man. Jonk, dog duidelik ouer as sy. Sy hare is donker soos sy gesien het en sy is ampers seker nou dat dit wel swart is. Sy kom nie agter nie, maar so met die opkyk na hom van waar sy sit.. het haar lippe effe oop-gegaan. Die stukkies van haar tande wat uitsteek tussen haar lippe glinster in die vonkelende kerslig.
Sy gelaat is oop en sy oë ook. Daar is niks wat hy wegsteek nie. Sy wese lê voor haar oop. Hy ledig die bord en laat dit sak op sy skoot. Anteko staan op en neem dit by hom. Dan gaan vul sy dit weer en gaan weer by sy voete sit. Hierdie keer sit sy met haar rug na hom gedraai aan sy linker-kant. Haar regter-hand het sy op sy voet geplaas en vryf dit saggies. Haar aanraking spoel soos salf deur hom. Hy eet rustiger nou. Sy wese raak kalm.
So halfpad deur die bord staan sy op en stap weer stoof toe. Daar is 'n groot pot water wat sy vroër ook daar gesit het. Die water is warm. Sy gooi dit in die waskom in haar kamer. Dit is 'n blik-beker met rose en fyn wit blommetjies op wat sy gebruik om die water na die waskom toe te dra. Dit was nog haar moeder s'n en sy kan onthou hoedat haar moeder haar bad voorberei het met hierdie einste beker toe sy nog klein was.
In die water gooi sy 'n mengsel van 'n paar roosblare en kruie wat haar ma haal geleer maak het. Dit maak die water sag en voed die vel. In die sepie wat sy daar neersit is ook van dieselfde mengsel ingemeng. Die aroma... soos altyd vul die kamer. Tog is dit anders vandag. Dit is asof daardie kruie sterker is... of is dit asof daar ietsie anders in by is. Sy laat toe dat die reuk haar wese deurstroom... haar gees aanraak.
Terug in die sitkamer het Bendoka kaar geëet en was net besig om sy bord by die opwasbak te sit. Hy hoor haar nader kom, maar hoor hy haar want sy loop so sag. Buite is die nag steeds koud en hier en daar kom die natuur se geluide tot hulle deur. Anteko neem sy hand en lei hom na waar sy die bad vir hom voorberei het. Daar is 'n skoon handoek wat sy vir hom uitsit en op haar bed plaas sy haar oorlede pa se nagklere. Netjies en skoon soos haar moeder dit nog laas gewas en gebêre het. Anteko glimlag sag as sy oor die materiaal van die nagklere stryk. Ja.. haar moeder het hierdie nog self gemaak en sy onthou nog soos gister dat haar pa baie in sy skik was toe hy dit kry. Haar ma het dit vir hom as verrassing gemaak in die tye wat hy uit was. Die materiaal is sag en snoesig... warm en is gevul met die liefde van haar ma.
Anteko huil nie.. nee... sy het vrede en haar hart is rustig in die van haar Vader in die Hemel. Bendoka wag dat sy die nagklere op die bed sit en uitloop. Dan begin hy ontklee. Hy is moeg. Nog nooit in sy lewe was hy so moeg nie. Hy neem die water en die seep en die lappie wat sy vir hom daar geplaas het en begin homself was. Sy bewegings is rustig en kalm. Hy is in vrede. Dit is asof die water sy reis se moeg afwas. Hy word verfris in die roos en kruie mengsel. Meeste van die pyn verlaat sy liggaam. Dan trek hy die klere aan wat sy vir hom uitgesit het. Hy pas goed in dit.. asof dit vir hom gemaak was. Anteko se pa het dit slegs drie maande gedra voor hy gesterf het. Tog lyk dit anders aan Bendoka... heel anders. Hy is goed gebou en sterk. Hy lyk goed in hierdie stel met die pragtige geskiedenis.
Nadat hy sy hare met die handdoek goed droog gevryf het maak hy die die deur oop. Anteko het sy bord gewas en het gaan sit en voort gegaan met haar naaldwerk. Sy is rustig. Steeds het nie een van hulle gepraat nie... steeds is die nag stil. Tog is daar al so baie gesê.
Bendoka weet nie wat om te doen nie. Hy staan daar in die deur en vir 'n oomblik lyk hy ongemaklik. Anteko het haar na hom gedraai toe sy die deur hoor oopgaan. Sy sien hom in haar pa se nagklere. Hy lyk heel anders as haar pa.. tog... hy lyk nie vreemd nie. Sy kyk hom van kop na tone dan besef sy dat sy voete nog steeds kaal is. Sy staan op en stap nader.. hy staan steeds in die deur. Sy kom voor hom te staan en dan tree hy na die kant toe weg. Anteko kyk af grond toe en stap deur haar kamer deur in om haar pa se pantoffels te gaan haal. Dit is van skaap-vel gemaak en is baie warm. Sy hou dit uit na Bendoka en hy neem dit by haar. Hierdie keer is daar 'n glimlag aan die een punt van sy mond.
Anteko wil iets sê en sy maak haar mond effe oop om te praat, maar daar is nie woorde nie. Sy glimlag dan maar. Daar waar Bendoka gestaan het.. daar trek hy die pantoffels aan. Anteko gaan terug in die kamer en neem die waslap en handoek om dit voor die koolstoof te gaan hang. Sy wys met haar hand dat Bendoka die houtkis waarin sy haar meel en suiker bêre moet nadersleep na die stoel. Dan het beide van hulle sitplek.
Sy neem die bak met die soetigheid wat sy ontvang het saam met die bredie en skep vir beide van hulle daarvan in. Dit is soet, maar nie te soet nie. Iewers proe sy dat daar heuning ook in is. Hulle eet in stilte. Bendoka het sy oë weer op Anteko. Sy brein liggaam en wese is moeg. Hy voel baie beter, maar hy is steeds baie moeg.
Nadat hulle geëet het vat Anteko haar gas aan die hand en lei hom na haar slaapkamer. Sy lê hom op haar bed neer. Dit is die bed waarop haar ouers eens geslaap het. Die pantoffels sit sy neer daar waar haar pa hulle altyd gebêre het wanneer hy in die bed geklim het.
Anteko gaan sit langs die kant van die bed en vryf Bendoka se oë toe.
"Slaap..." sê sy sag... "... rus.." Sy vryf sy gesig saggies met haar hande... voel sy vel onder haar vinger-punte.
Die aroma van die kruie en roosblare is steeds in die vertrek.. ja.. sekerlik moes God iets daar bygevoeg het want die aroma vul haar vandag anders as altyd. Haar hart word warm as sy aan haar Meester dink. Soveel liefde vloei daagliks deur haar. Soveel kosbaarheid in 'n enkele dag ontvang sy van Hom.
Bendoka sak weg in diepe slaap in. Hy rus. Hy is tuis. Vêr het hy gestap en baie dinge moes hy trotseer. Vandag is hy tuis. Sy asemhaling is diep en rustig. Hy rus. Anteko gly af voor die bed op haar knieë. Sy vou haar hande saam. Trane vloei uit haar oë en word deur die matras opgesuig.
"My Meester.." sê sy... ".. U het vir my voorsien."
|
||